Rooibos Melktert soos gesien op MINKI

SNOWFLAKE ROOIBOS-MELKTERT RESEP

Lewer 2 middelslag melkterte

 

Voorverhit die oond tot 180C. Spuit 2 metaal-blikborde goed met kossproei.

1. KORS Meng 500 ml (2 k) Snowflake Queens Cake-mengsel en 125 g margarien goed saam. Gebruik sommer jou hande indien nodig. Druk die deeg in die bodems van 2 blikborde. Hou eenkant. 

2. VULSEL Sit 750 ml (3 k) melk, 30 ml (2 e) margarien en 4 rooibosteesakkies saam in ‘n kastrol. Verhit totdat die melk net tot onder kookpunt kom. Haal van die hitte af, meng goed en laat eenkant staan.

3. Skei 2 eiers in 2 groot mengbakke. Meng 125 ml (½ k) suiker met die eiergele.

4. Haal die teesakkies uit die melk uit. Giet die melk bietjie-vir-bietjie by die eiergeel-mengsel terwyl jy aanhoudend klits. Giet die mengsel terug in die kastrol.

5. Voeg 30 ml (2 e) mielieblom, 60 ml (¼ k) Snowflake koekmeel en ‘n knippie sout by. Klits goed. Sit die kastrol terug op die hitte en klits aanhoudend totdat die mengsel verdik en begin prut. Haal van die hitte af.

6. Klits die eierwitte met ‘n skoon klitser tot styf. Skep ‘n derde van die eierwitte in ‘n skoon mengbak. Skep ‘n bietjie van die rooibosmengsel by die eierwitte en meng goed.

7. Voeg die res van die rooibosmengsel by en meng goed. Vou die res van die eierwitte by.

8. Skep die mengsel op die korse en bak vir 25-30 min of tot gaar en gestol. Sprinkel fyn kaneel oor, laat heeltemal afkoel en sit voor.