Ouma se Koffie-Koek op MINKI

MANHATTAN-VERSIERDE KOFFIEKOEK

Lewer 1 groot 3-laag koek

Voorverhit die oond tot 180°C. Spuit 3 x 23 cm-koekpanne goed met koss-proei en voer uit met bakpapier.

 

DIE KOEK

Klits 2 ekstra-groot eiers, 250 ml (1 k) olie, 250 ml (1 k) melk, 80 ml (⅓ k) kitskoffie (opgelos in 250 ml (1 k) kookwater) saam in ‘n groot mengbak.

 

Voeg 1 x 1 kg pak ‘Snowflake Queen Cake mix’ by en roer tot net gemeng. Verdeel die mengsel tussen die 3 koekpanne. Bak vir 25-30 min of tot gaar in die verhitte oond.

 

KOFFIESTROOP

Sit 250 g suiker, 300 ml koffie-likeur, 2,5 ml (½ t) sout, 125 ml (½ k) kitskoffie en 80 ml (⅓ k) botter saam in ‘n kastrol. Meng goed.

 

Verhit op die stoof en roer totdat die suiker gesmelt is. Skep die stroop oor die warm koeke en laat heeltemal afkoel.

 

ROOMVERSIERSEL

Spons 10 ml (2 t) gelatien in 30 ml (2 e) koue water. Klits 500 ml (2 k) room styf. Vou 200 ml gesifte versiersuiker en ‘n knippie sout by die room in.

 

Verhit die gelatien vir 10-15 sekondes in die mikrogolf tot net gesmelt (moet dit nie vir te lank verhit nie). Voeg die gelatien by die roommengsel en vou in. Hou in die yskas tot nodig.

 

SJOKOLADE-VERSIERSEL

Meng 250 g sagte botter, 500 g versiersuiker, 80 ml (⅓ k) kakao en 5 ml (1 t) sout goed saam.

 

Voeg 15 ml (1 e) kitskoffie (opgelos in 10 ml (2 t) water) en 5 ml (1 t) vanielje by en klits tot glad. Voeg nog ‘n bietjie water by indien die versiersel te styf is. Skep die versiersel in ‘n spuitsak en hou eenkant.

 

AFRONDING

Haal die koeke uit die koekpanne uit. Spuit ‘n ring sjokolade-versiersel op rand van 2 van die koeke. Smeer karamel in die middel. Stapel die 2 koeke bo-op mekaar.

 

Sit die 3de koek bo-op en smeer ruimskoots van die room-versiersel bo-op. Smeer die kante ook met die room-versiersel.

 

Sprinkel of pak na hartelus Manhattan Milk Bottles en Manhattan Speckled Eggs bo-op die koek.

Minki JoubertComment