DRIE MANIERE MET EIERVRUG

CAPRESE EIERVRUGROLLETJIES

EIERVRUG

2 groot eiervrugte, in die lengte in dun skywe gesny

Sout en varsgemaalde peper

Olyfolie, vir oor drup

VULSEL

60 ml (¼ k) songedroogte tamatiepesto

100 g mozzarella, in skyfies gesny

‘n hand vol  vars basielie

VIR VOORSIT

Seesout

Ekstra olyfolie

Balsamiese asyn

Voorverhit die oond tot 200°C. Smeer ‘n bakplaat liggies met olyfolie.

  • EIERVRUG Pak die eiervrugskywe in ‘n enkellaag op die bakplaat. Geur met die sout en varsgemaalde peper en drup nog olyfolie oor. Rooster in die verhitte oond vir 15-20 min of totdat die eiervrug gaar is. Haal van die bakplaat af en laat effe afkoel.

  • VULSEL Smeer die eiervrug met die tamatiepesto en pak van die mozzarella en basielieblare bo-op. Rol die eiervrug op in rolletjies en steek van met ‘n peuselstokkie.

  • VIR VOORSIT Pak die rolletjies op ‘n bord en geur met nog seesout indien verkies. Drup ‘n bietjie olyfolie en balsamiese asyn oor.

 

MISO-GEBRAAIDE EIERVRUG

4 eiervrugte, in blokkies gesny

45 ml (3 e) olyfolie

MISO-SOUS

30 ml (2 e) Miso-pasta

30 ml (2 e) Mirin

15-30 ml (1-2 e) heuning

5 ml (1 t) sesamolie, optioneel

15 ml (1 e) kookwater

VIR AFRONDING

30 ml (2 e) geroosterde sesamsaadjies

2 stingeluie, grof gekap

‘n hand vol koljanderblare, grof gekap

 

Voorverhit die oond tot 200°C.

  • Versprei die eiervrugblokkies op die bakplaat en drup die olie oor. Mend die olie deur die eiervrug en rooster in die verhitte oond vir 20 min.

  • MISO-SOUS Klits al die bestanddele goed saam en giet oor die eiervrug. Meng die sous deur die eiervrug en rooster vir nog 10-15 min of tot klewerig.

  • VIR AFRONDING Versprei die eiervrug op ‘n groot bord en sprinkel die sesamsaadjies, stingeluie en koljanderblare oor.

 

BABA GANOUSH MET GROENTESTOKKIES

3 groot eiervrugte

30 ml (2 e) olyfolie

1-2 knoffelhuisies

30 ml (2 e) tahini-pasta (optioneel)

30 ml (2 e) natuurlike dikroom jogurt

‘n skeut suurlemoensap

‘n hand vol pietersielie

VIR VOORSIT

‘n hand vol granaatpitte

‘n verskeidenheid groentestokkies

  • Voorverhit die oond tot 200°C.

  • Sny kepe oraloor die eiervrugte en drup die olyfolie oor. Pak in ‘n oondbak en rooster vir 35-40 min of totdat die eiervrugte sag en gaar is. Haal uit die bak uit en laat afkoel.

  • Trek die vel van die eiervrugte af.

  • Sit die eiervrugte saam met die res van die bestanddele in die bak van ‘n voedselverwerker en pols tot glad. Geur met sout na smaak.

  • VIR VOORSIT Skep die baba ganoush in ‘n bakkies en sprinkel granaatpitte oor indien verkies. Sit voor saam met die groentestokkies.

 

 

MINs02ep08_blog pic.png
Minki JoubertComment