BEESFILLET MET BRANDEWYN-EN-COKE SOUS EN KNOFFELBROOD

BEESFILLET MET BRANDEWYN-EN-COKE SOUS EN KNOFFELBROOD

Genoeg vir 4 mense

 

Haal die beesfillet ‘n uur voor die braai uit die yskas uit. Klad droog en sny in porsies. Maak ‘n braaivleisvuur met genoeg kole vir braai.

SMEERSOUS Sit 250 ml (1 k) coke, 60 ml (¼ k) tamatiesous, 60 ml (¼ k) blatjang, 60 ml (¼) worcestersous, 60 ml (¼ k) donkerbruinsuiker, 5 ml (1 t) gedroogde tiemie en 2 fyngekapte knoffelhuisies saam in ‘n kastrol en verhit oor matige hitte. Roer totdat die suiker opgelos is en laat stadig prut vir 5 min.

Voeg 60 ml (¼ k) brandewyn by en laat prut vir nog 5 min.

FILLET Geur filletporsies met sout en varsgemaalde peper. Smeer met ‘n bietjie olyfolie.

Sit ‘n rooster so 30 cm bo die kole en pak die steak daarop. Braai vir 2 min, draai om en braai vir nog 2 min.

Verf die steaks goed met die smeersous, draai om en smeer die ander kant ook met sous. Braai die steak tot so gaar soos verkies en verf nog 2 keer met die sous.

KNOFFELBROOD Meng 250 ml (1 k) mozzarellakaas, 125 ml (½ k) cheddarkaas, 4 fyngekapte knoffelhuisies en 1 gerasperde ui saam.

Sny ‘n brood in blokkies, sonder om heeltemal deur te sny, en stop tussen-in met die kaasmengsel.

Rooster die brood in die oond teen 200°C vir 15-20 min of tot goudbruin en die kaas gesmelt is.

Sit die fillet voor saam met die sous en knoffelbrood.

 

 

Minki JoubertComment