KERRIE-AFVALPASTEIE MET SOET-BRANDRISSIESOUS

KERRIE-AFVALPASTEIE MET SOET-BRANDRISSIESOUS

 

VULSEL

15 ml (1 e) olie

15 ml (1 e) botter

1 ui, gekap

15 ml (1 e) meel

250 ml (1 k) hoenderaftreksel

250 g klaar bereide kerrie afval, ontbeen

4 aartappels, geskil, gaar gekook en in blokkies gesny

Sout en varsgemaalde peper

‘n hand vol koljanderblare, gekap

PASTEIE

500 g skilferkorsdeeg

1 eier, geklits

Lourierblare (vir bo-op)

DOOPSOUS

15 ml (1 e) olie

1 ui, gekap

2 knoffelhuisies

1-2 brandrissies

1 rooi soetrissie, ontpit

½ pynappel, fyngekap

125 ml (½ k) suiker

125 ml (½ k) witwynasyn

Knippie sout

30 ml (2 e) mielieblom

15 ml (1 e) water

Voorverhit die oond tot 180°C. Voer ‘n bakplaat met bakpapier uit en spuit met kossproei.

VULSEL

Verhit die olie en botter in ‘n diep pan en braai die ui tot sag. Sprinkel die meel oor en roer deur.

Giet die aftreksel by roer aanhoudend totdat die sous begin prut. Voeg die afval en aartappels by en bring tot kookpunt.

Roer aanhoudend totdat die vulsel begin verdik. Geur met die sout en varsgemaalde peper en roer die koljanderblare deur. Skep die vulsel uit en laat heeltemal afkoel.

PASTEIE

Rol die deeg rofweg op ‘n meelbestrooide oppervlak uit en sny deegsirkels met ‘n skerp me suit.

Skep van die vulsel op die een helfte van elke deegsirkel, maar hou ‘n 1 cm rand rondom sonder vulsel. Vou die een kant van die deegsirkel oor die vulsel en seël die pastei met ‘n vurk.

Herhaal met die res van die deeg en vulsel. Pak die pasteie op die bereide bakplaat en verf elke pastei liggies met die eier. Sit ‘n lourierblaar op elke pastei indien verkies. Bak vir 15-20 min of tot goudbruin en gaar.

DOOPSOUS

Verhit die olie in ‘n kastrolletjie en roerbraai die ui tot sag.

Sny die knoffel en rissie fyn op en voeg by die uie.

Sny die soetrissie in klein blokkies gooi in die kastrolletjie. Roerbraai alles saam tot sag.

Gooi die suiker en asyn by en roerbraai totdat die suiker opgelos is. Laat prut vir ‘n minuut.

Meng die mielieblom met die water en voeg by. Roerbraai totdat die sous begin verdik. Geur met sout, haal van die hitte af en laat heeltemal afkoel. Bêre in ‘n fles in die yskas tot nodig.

VIR VOORSIT

Sit die pasteie voor saam met die soet brandrissiesous.

Minki JoubertComment