Sjokolade-tiramisu

Resep deur Herman Lensing

Herman sê: “Dié Italiaanse gunsteling kry ’n sjokoladekinkel.”

 

Genoeg vir 6-8 

250 ml room 

uitgekrapte saadjies van 1 vanieljepeul of 5 ml vanieljegeursel 

150 g donkersjokolade, fyngekap 

6 eiergele 

100 g (125 ml) strooisuiker 

10 ml vanieljegeursel 

100 ml sjokoladelikeur 

2 x 250 g-bakkies mascarpone by kamertemperatuur 

250 ml room 

200 ml baie sterk koffie, by kamertemperatuur 

30 vingerkoekies (Boudoir) 

100 g donkersjokolade 

kakao vir oorsif 

 

Verhit rdie oom en vanielje tot kookpunt en voeg gekapte sjokolade by. Roer tot ‘n gladde sous. Hou eenkant. Plaas die eiergele, strooisuiker, vanielje en die helfte van die likeur saam in ‘n glasmengbak wat oor ‘n pot met water sal pas, sonder dat die bak aan die water raak. Verhit dan die pot met water tot kookpunt en verlaag die hitte tot ‘n stadige prut. Plaas die bak op die pot en klits die mengsel oor warm water met ‘n elektriese klitser tot lig en skuimerig, vir so 8 tot 10 minute. Verwyder van die hitte en hou aan klits tot die mengsel koud is. Terwyl die klitser loop, skep die mascarpone lepel vir lepel by die eiermengsel en klits tot glad. Hou eenkant. Klits die room met ‘n skoon klitser tot sagte punte vorm en vou dit dan by die eiermengsel in. Meng die koffie en die res van die likeur by. Doop die koekies vinnig in die koffiemengsel en pak ’n laag in ’n bak met ’n deursnee van 30 cm en so 3 cm diep. Skep die helfte van sjokoladesous wat jy eenkant gehou het oor, gevolg deur die helfte van die mascarponemengsel. Smeer gelyk. Rasper sjokolade oor. Pak nog ’n laag koekies wat in die koffie gedoop is bo-op, gevolg deur res van die sjokoladesous. Eindig met die oorblywende mascarponemengsel. Plaas in die yskas vir 4 ure. Sif die kakao oor en sit voor. 


Previous
Previous

Lensie-en-chorizosop

Next
Next

Sagopoeding met meringue