Melksnysels

Resep deur Herman Lensing

Herman sê: “Ek hou van melkkos, maar ek het geweet my ouma hang uit as sy eers melksnysels gemaak het. Dis ’n bietjie meer werk, maar winter, somer, lente, herfs — jy kan altyd hieraan smul as jy troos soek.


Genoeg vir 6 


240 g (430 ml) koekmeel, plus ekstra vir uitrol 

3 ml sout 

3 eiers, geklits 

2 liter melk 

15 ml botter 

kaneelsuiker vir voorsit 

hand vol gekrummelde vanieljekoekies vir voorsit 

bloubessies vir voorsit 


Plaas die koekmeel en sout in ‘n mengbak. Voeg die geklitste eiers geleidelik by terwyl jy die mengsel met ‘n houtlepel meng tot stywe, kniebare deeg. Knie vir 3-4 minute of tot die deeg ‘n gladde voorkoms het. Draai toe in kleefplastiek en laat dit in die yskas rus vir 1 uur. Besprinkel die meel op ‘n werkvlak en rol die deeg uit tot sowat 3 mm dik. Besprinkel die deeg ruim met meel en rol in ‘n stywe wors. Sny met ’n skerp mes die deegwors in skywe van 2 mm breed. Skud die deegsirkels los in snysels. Bring die melk en botter tot kookpunt in groot pot en voeg snysels by terwyl jy roer. Verlaag die hitte en laat dit prut tot die snysels sag en gaar is en die melk romerig verdik. Roer elke nou en dan. Verwyder die pot van die hitte af. Sit voor met lepels vol kaneelsuiker, koekiekrummels en vars bessies. 


Previous
Previous

Italiaanse minestrone-sop

Next
Next

Lensie-en-chorizosop